Website Administration
Die Son Article: Kitaarman Keanu wil wêreld invaar
Updated: Oct 22, 2020
DIE skare raak mal wanneer Keanu Harker deesdae die stage vat. Hy weet hoe om hulle met sy musiek en stage performance te betower.
Keanu (23) is ’n kitaarspeler en sanger van Belhar op die Kaapse Vlakte. Hy droom daarvan om internasionaal naam te maak.
Op 12-jarige ouderdom het hy kitaarspel bemeester onder die vaardige hande van sy pa, Ruben Harker. Dié was destyds lid van die groep Truth Foundation.
“In die Laerskool Belhar wou ek lid wees van die skool se orchestra,” vertel Keanu.
“Daar was 12 violins en 12 trumpets, maar hulle het nie ’n guitarist gehad nie. Ek het gevoel ek wil ’n verskil maak en het met my kitaar aangesluit.”
Op hoërskool, Belhar High, is Keanu se talent raakgesien en is hy gevra om lid te wees van die skool se jazzband.
Intussen het hy ook sy sangtalent geslyp as gospelsanger in hul kerk.
Ná matriek in 2013 het hy twee jaar musiek studeer by Camillo Lombard se musiekskool, die Cape Music Institute in Athlone.
“Ek wou net kitaar studeer, maar moes vocals ook kies – alhoewel ek nooit wou sing nie.
“Ek het musiek begin compose vir produksies. Ek het met verskillende genres geëksperimenteer, soos reggae, rock en gospel.
“In my eerste jaar het ek al begin network met verskillende artists, events en companies en openbare optredes begin doen.”
Keanu tree op sy eie op, maar behoort ook aan twee bands, The Pedestrians en Bassmint. Hy kan acoustic, bass en lead guitar speel.
“In my finale jaar (2015) by die Cape Music Institute het The Pedestrians se manager ’n lead singer kom soek om by die Joy of Jazz Festival in Johannesburg saam met hulle op te tree. Camillo het my aanbeveel.
“Ek was baie senuagtig en wou net die een gig saam met hulle doen. Die skare was mal oor ons performance, en dis toe dat ek besluit om my sangloopbaan verder te vat en by die groep te bly.”
Laas jaar het hulle ’n single genaamd “So Much Fun” uitgereik. Dit is beskikbaar op Deezer, Spotify en Google Play.
Keanu waag deesdae sy hand aan pop, soul, gospel, rock, jazz en reggae.
Hy het al baie optredes agter sy naam. Hy was al ’n backing vocalist vir James Bhemgee, Karin Kortjé, Don Vino, Nur Abrahams en John Hassan.
Die Kite Festival in Muizenberg en The Cape Town Jazzathon in die V&A Waterfront tel boonop onder die vele feeste waar hy al opgetree het.
Maandae en Donderdae tree hy solo op in die hotel One and Only in die Waterfront. Hy bied ook privaat kitaarlesse aan.
Tans beplan Keanu aan sy album, wat hy begin volgende jaar wil uitreik.
“Jonathan Butler is een van my groot inspirasies. Hy is hier van die Kaapse Vlakte en het dit oorsee gemaak. Dit wys my ék kan dit ook oorsee maak.”
https://www.son.co.za/Alles-wat-mal-is/Gossip/kitaarman-keanu-wil-wereld-invaar-20190126